ANABELLE OOSTHUIZEN

antoinette travis
Johan Travis and his sheep dog, Kaira
September 1, 2015
rob mcshane
Rob McShane – Me and MS
September 1, 2015

ANABELLE OOSTHUIZEN

I HAVE MS, IT DOES NOT HAVE ME, AND I WILL NOT LIVE IN FEAR OF IT

Aan die begin van Januarie 2007, het ek teruggekom Stellenbosch toe om my studies voor te sit. Ek het begin besef dat my sig aan my linkerkant verswak het. Ek het met my ouers daaroor gepraat en hulle het gesê dat ons eers moet kans gee en kyk wat gebeur. Op daardie stadium het ek naarheid, dubbel visie, migraine en swakheid in my bene en arms ervaar. Ek het my nie veel daaraan gesteur nie, aangesien ek aan hokkie en skopboks deelgeneem het. Ek het gedink dis dalk net moegheid Teen die middel Maart was die pyn so erg dat ek amper nie my oog kon oopmaak nie. Ek het `n oogklap gekry en verder klas bygewoon. In dieselfde tyd het my rekenaar begin probleme gee, en het ek my take verloor. My ouers het toe vir my `n nuwe rekenaar aangeskaf. `n Uitruildosent het in daardie stadium vir ons klas gegee en ek het hom gevra of hy bereid sal wees om my te help aangesien ek my werk verloor het en sukkel om te sien. Hy het my aangekyk en reguit vir my gesê dat ek `n ongeluksvoël is. Dit het my net meer gemotiveer om hom verkeerd te bewys. My oog het meer geswel en kon nie meer lig hanteer nie. Ek is huis toe vir die vakansie en het weer met my ouers gepraat nadat `n dokter vir my gesê het dis net sinus aangesien dit voorgekom het asof `n donker kol voor my pupil van my oog beweeg. Ek het my huisdokter gaan sien en die het ook sinus bevestig.   Ek kon nie dink dat dit sinus kan wees nie, maar die dokter was vas oortuig daarvan. Die drukking en pyn agter my oog was besig om my studies te beïnvloed en ek het begin om sterker pynpille te neem om die pyn onder beheer te hou. Dit het glad nie gewerk nie en teen Mei het die migraine al vir 6 weke aangehou en kon ek glad nie meer klas bywoon nie.

My vriende het my op daardie stadium versorg en vir my kos gemaak as hulle van klas af gekom het. Gelukkig het een van my vriendinne se ma’s die een aand kom kuier, sy is `n apteker. Ek het haar gevra of sy nie asseblief wil kyk wat met my oog aangaan nie. Sy het probeer om met `n lig in my oog te kyk, maar teen daardie tyd wou my oog amper glad nie meer oop nie. Sy het dadelik `n oogspesialis in Bellville gebel en gesê sy het `n krisis, sy bring my die volgende dag deur. Hulle was vol bespreek, maar die dokter kon hoor aan haar stem dat dit ernstig is. Die volgende dag is verskillende toetse op my oë gedoen, en optiese neuritis is by my gediagnoseer. Die dokter het vir my gesê ek moet dadelik opgeneem word sodat hulle vir my kortisoon kan gee. Ek het gesê dat ek daardie Vrydag `n taak moet ingee en nie kan gaan nie.

 

Hy het vir my gesê dat ek twee keuses het. Een ek gaan dat hulle my opneem en my oog herstel of twee ek gaan nie en gee die taak in en ek sit sonder `n oog. Ek het gesê ek sal daaroor dink aangesien dit `n groot taak was. Ek my ma gebel en gevra wat sy voorstel. Sy was baie ontsteld en het gesê ek moet dadelik gaan. Aangesien ek niks by my gehad het nie, is ek eers die volgende oggend negeuur opgeneem by Panorama Medi Clinic.

Na die afspraak by die oogspesialis is ons deur na die neuroloog wat my moes ondersoek voordat ek opgeneem kon word. Hy het verskillende toetse gedoen om my oë en motoriese reaksies te toets. Daar is gevind dat die linkerkant van my liggaam verswak is en dat my linkeroog glad nie voorwerpe kan waarneem nie. Die volgende oggend is ek toe opgeneem. Dit was vir my `n verskriklike ervaring gewees aangesien ek vir amper twee ure moes wag voordat enige iemand na my toe gekom het om te sê wat hulle gaan doen. Hulle het verskillende toetse gedoen, bloed getrek en rondgehardloop maar niemand wou vir my sê wat aangaan nie. Verder was ek alleen daar sonder my ouers se ondersteuning, aangesien hulle nie kon deurkom na my toe nie. My vriende moes ook in Stellenbosch agterbly vir klas, en my familie in die Kaap het tot laat gewerk.

Op `n stadium het hulle gesê ek moet gaan vir `n MRI. Hulle het verduidelik dat dit `n skandering van my brein is en dit glad nie so erg gaan wees nie. Min het ek geweet wat vir my voorlê. Hulle het my op die tafel geplaas en my kop vasgemaak, ek het hulle gesê dat ek engtevrees het, maar hulle het gesê die oorfone gaan my laat vergeet van die nou ruimte. Die oorfone het op daardie stadium soos`n redding gelyk, maar toe ek inbeweeg en ek voel hoe die ruimte kleiner word het ek begin paniekbevange raak. Hulle het gesien ek begin beweeg en het die musiek aangesit. Hulle kon nie `n slegter tyd gekies het nie, toe die eerste klanke van “Time to say goodbye” in my ore begin suis toe is dit asof alles net te veel raak. Ek het begin om die goed van my af te ruk en hulle het ingehardloop en my teruggeneem na my saal toe. Ses ure later, nadat een van my skoolvriende spesiaal deurgery het van die Kaap af om my te ondersteun, was ek kalm genoeg om in die masjien te gaan en het dit beter afgeloop. Hulle het my vir ongeveer 5 dae op kortisoon drips geplaas. My sig het stadig maar seker begin herstel.

Op `n stadium het die neuroloog gesê dat hy `n Lumbale punksie moet doen om te kyk om daar enige probleme is. In die laaste stadium in die hospitaal het my vriendin en haar ouers kom kuier, die neuroloog wou weet waar my ouers is, ek het gesê die is die naaste ouers wat ek op die oomblik het. Hy het gesê ek en my vriendin moet `n draai gaan stap, want hy wil met hulle praat.

Op daardie stadium het my vriendin en haar ouers reeds geweet wat aangaan, maar sy moes met my praat voordat hy my sou inlig. Sy het vir my gesê sy het nie `n sagte manier om dit oor te dra nie, maar daar is `n letsel net agter die linker optiese senuwee van my brein en dat ek dalk `n chroniese siekte het wat die neurone in my brein vernietig. Dit het onwerklik gevoel, asof ek in `n droom wêreld verkeer en enige oomblik wakker sou word.

Ek het gedink ek het sinus en toe hoor ek dit is optiese neuritis en nou moet ek hoor dat dit moontlik omgesit het in `n siekte wat my dalk eendag in `n rystoel kan laat op eindig. Ek het dadelik my ouers gekontak en vir hulle gesê wat aangaan. Hulle het begin huil en die telefoon neergesit. Teen die einde van die tydperk in die hospitaal het die neuroloog 120 kortisoon tablette voorgeskryf. Ek het vir `n week lank probeer om met my ouers te praat maar sodra ek wou praat oor die moontlikheid van `n chroniese siekte het hulle die gesprek verander. Ek moes alles alleen verwerk. Ek het my take klaar gemaak en ingegee, maar het swak gevaar. Ek kon nie konsentreer nie, ek het siek gevoel en die kortisoon het my liggaam verswak. Toe ek terugkom na die Junie vakansie was ek net `n week hier toe blaas my splinternuwe rekenaar, ek het gedink dat die ergste verby is, aangesien dinge nie nog slegter kon gaan nie. Ek het wel `n rekenaar verloor, maar gelukkig het ek al my werk op ander hardeskywe gestoor. Ek het my eerste semester gedruip omdat ek min in die klas was en nie kon fokus op die take wat ek moes doen nie. Ek het `n afspraak met my dosente gemaak en vir hulle verduidelik wat aangaan net sodat hulle kan verstaan. Een van hulle wou nie, ek het gevra of die dosent weet wat MS is, die antwoord was, “Nee, vermaak my en sê wat MS is.” Ek het aan die dosent verduidelik wat moontlik kan gebeur, en het die kantoor verlaat. Ek het weer begin klas bywoon en dinge het weer positief gelyk omdat God my deurgedra het in die moeilikste tyd van my lewe toe ek alleen moes staan.

Gedurende die September vakansie het ek agtergekom my sig gee weer probleme. Ek het eers gedink dit is my verbeelding maar toe die donker kol weer begin verskyn het ek geweet daar is groot fout. My pa het kom kuier en ek het vir hom gesê ek word weer blind. Hy het gesê dit is onmoontlik dit kan nie wees nie. Ek het aangehou en gesê dis waar. Hy het hom vererg en gesê hy maak vir my `n afspraak by `n neuroloog en oftalmoloog in Stellenbosch sodat hulle my verkeerd kan bewys. Ek het die neuroloog gaan sien en haar verduidelik van my eerste episode. Sy het nagedink en gesê dat my kans om MS te kry baie skraal is, want ek is nog te jonk. Sy verwys my toe na die oftalmoloog wat dadelik weer optiese neuritis by my bevestig.

Ek was veronderstel om daardie dag `n Tut klas by te woon, maar ongelukkig was die enigste opening by die oftalmoloog in daardie tydgleuf gewees. Ons het dieselfde aand toets geskryf en ek het die toets gaan skryf, en dit geslaag. Die volgende dag is ek weer opgeneem in Stellenbosch Medi Clinic. Hulle het `n MRI gedoen, maar die keer het hulle vir my `n ligte verdowingsmiddel gegee omdat ek hulle vertel het van my eerste ervaring.

Hierdie keer was daar nog `n letsel reg agter die vorige een. Ek is weer op kortisoon drips geplaas en die keer het dit vinniger gegaan aangesien die “relapse” nie so groot was soos die eerste een nie. Hulle het weer `n Lumbale punksie gedoen, maar dit het verkeerd gegaan toe die radioloog die senuwee in my linkerbeen raak gesteek het omdat hy te haastig was. Ek het in daardie stadium soveel pyn gehad, fisies, psigies en emosioneel dat ek amper nie meer wou opstaan nie, maar ek het aangehou.

Ek het die volgende week weer klas toe gegaan alhoewel ek gesukkel het om te loop. Daardie Vrydag is ek weer gevra om te gaan vir `n MRI en `n Lumbale punksie. Die MRI het `n klomp nuwe letsels gewys en die Lumbale punksie het positief teruggekom vir Multiple Sclerosis. Ek was ten gronde gewees. Ek het aan die begin van die jaar net begin met migraines en tydelike blindheid en toe het dit verander in `n chroniese neurologiese siekte. Van my vriende was diep geskok, van hulle het weke lank nie met my gepraat nie, ander het net gehuil as hulle my sien.

Ek moes sterk wees vir my, my ouers en my vriende en het nie tyd gehad om dit self te verwerk nie. My vriende het reguit gesê dat as dit met hulle moes gebeur, hulle sou huis toe gaan en nie weer terugkom nie. Tog kan party van hulle nie glo ek dat besluit het om aan te bly by die Universiteit nie, dit motiveer hulle nou nog om aan te hou met hulle eie studies.

My neuroloog laat weet toe dat ek myself een keer `n week in my bobeen spiere sal moet inspuit om te verseker dat die “relapses” nie so vinnig agter mekaar plaasvind nie. Sy het begin om al die informasie bymekaar te maak om dit aan die mediese fonds te verskaf, aangesien hulle MS nie as `n chroniese siekte beskou nie. Dit het `n tydjie gevat om keuring te kry, maar hulle het die inspuiting goedgekeur. Ek moes toe wag vir Avonex in Johannesburg om te bevestig dat ek Desember al kan begin met die Avonex Beta 1a inspuiting.

Terwyl ons gewag het, het ek my tweede semester geslaag en gedink die ergste is nou verby. Aangesien ek my eerste semester gedruip het moes ek aansoek doen om die Dekaansvergunningseksamen. Ek het begin om my daarvoor voor te berei. Teen middel Desember het ek gehoor die inspuiting is op pad, en dat die “relapses” met 30% sal verminder. Ek was bang oor die idee om myself te begin inspuit, maar verlig dat daar darem `n ligpunt is na `n jaar van baie verwarring en pyn.

Teen Januarie 2008 het ek verneem dat ek 4 take moes voltooi vir my eksamen. Ek het begin met my Diploma in Vertaling en Tolking en het Leksikografie, Vertaling, Vertaalteorie, Tolking, Tolkteorie, Redigering, Generiese Redigering en Sekondêre Inhoude gehad. Ek het elke klas bygewoon en my werk was altyd op datum gewees, alhoewel ek ook nog die take vir my eksamen ook gedoen het.

Ek het my Dekaansvergunningseksamen geslaag en my eerste gedeelte van my Diploma in Vertaling en Tolking. Daardie jaar het ek ook die twee gedeelte van die Diploma in Vertaling en Tolking geslaag, ten spyte van alles, die invloed van my siekte en die trauma om te aanvaar dat ek MS het.

In Maart 2009 het ek weer blindheid ervaar, die keer in albei oë. Ek het die oftalmoloog besoek wat weer optiese neuritis by my bevestig het. Ek het hom gevra wat hy voorstel en hy het gesê ek sal dadelik weer moet kortisoon kry. Ek het my neuroloog in die hande probeer kry, maar sy was by `n MS seminaar in Amerika. In daardie stadium het haar sekretaresse verskeie dokters en neuroloë gebel om te vra of hulle die kortisoon kon gee. 20 Dokters het geweier omdat kortisoon so gevaarlik is. Die 21ste dokter was by Somerset West se hospitaal, Vergelegen, hy was die enigste een wat bereid was om my te help. Hy het gesê ek kan die Vrydag middag deurkom dan sal hy my help. Ek het die oggend klas geloop, alhoewel ek pyn gehad het. Daardie middag is ek opgeneem en die dokter het weer toetse op my gedoen. Hy het bevestig dat die blindheid nou versprei het na my regteroog toe. Dus sou hulle my moes dophou, ek is in `n privaat kamer geplaas en die dokter het die hele tyd kom kyk of alles nog reg is by my. Die kortisoon het my siek gemaak en ek het koors gekry, my vriende het van Stellenbosch af deurgery om te kom kyk of ek nog okay is, en hulle was geskok toe hulle my sien. Ek is die Sondag weer ontslaan en het die volgende week weer klas geloop. Ons het die week daarop `n semester toets geskryf en alhoewel ek nog nie gesond was nie, het ek die toets geskryf en dit geslaag. Dinge het weer positief begin lyk en ek het goed gevaar onder omstandighede.

Teen Augustus van dieselfde jaar het ek weer begin siek voel, dit was erger as voorheen, alhoewel my sig nie so erg aangetas was nie, het ek lamheid in my bene en arms ervaar. Ek het gesukkel om asem te kry en my hart het gevoel asof dit wou afruk. Ek het probeer deurdruk, maar teen die Sondagaand kwart voor 12, kon ek nie praat nie, my linkerarm was lam en ek het in `n koue sweet uitgeslaan. My vriende het my in die motor gehelp en deurgejaag na die Noodafdeling by Stellenbosch Medi Clinic. Daar het hulle my op `n hartmonitor gesit en my hartklop het gespring tussen 98 en 120. My linkerbeen het begin ruk en ek het gevoel hoe ek in `n beswyming in gaan. My een vriendin het my heeltyd wakker gehou en met my gepraat. My lippe het pers geraak en dit het gevoel asof my longe nie wou suurstof inneem nie. Die verpleegster het my ingespuit en pille gegee en daarna is ek na die gewone saal geneem. My neuroloog het die volgende dag my ondersoek en toe sy my vra om te loop om te kyk hoe my motoriese reaksies is, kon ek net tot by die einde van die bed stap. Sy was baie bekommerd en het my tot die Vrydag gehou vir neurologiese ondersoeke en het my weer gestuur vir gesigsveldtoetse. Die oftalmoloog het bevestig dat dit weer `n “relapse” is en dat die blindheid in albei oë sigbaar is. Ek is die Vrydag weer ontslaan en die volgende week het ek weer klas bygewoon. Ek het my take klaargemaak en dit so gou as moontlik vir my dosente gegee.

Daardie week het ek weer `n afspraak gehad om toe kyk hoe ek vorder, dis toe dat ek eers hoor dat ek Inflammasie in die brein ook gehad het. My motoriese reaksies is weer getoets en my balans was baie verswak en my linkeroog was weer geswel. Die dokter het gesê dat ek dit moet dophou en kyk of dit vererger. Dit was moeilik om werk te doen, aangesien ek half blind was, maar ek het steeds alles voltooi wat ek moes. Die week daarop het ek pyne in my ore gekry. Ek het dokter toe gegaan en die het mangelontsteking en inflammasie agter my oordromme bevestig.   Ek was so moeg van pille en inspuiting, maar het steeds deurgedruk. Dieselfde week moes ek gaan vir `n opvolg by die oftalmoloog om te kyk hoe my visie vorder. Die gesigsveldtoetse het gewys dat die blindheid onveranderd is en dat die visie in my linkeroog besig is om af te neem. Die oftalmoloog oorweeg om nou weer kortisoon aan te beveel, maar my neuroloog wil eers kyk of die blindheid nie dalk self kan verbeter nie. Op die oomblik het ek baie pyn en die blindheid pla my, veral as my oog toeswel, maar ek gaan nog steeds klas toe en ek wil baie graag verder studeer om te bewys dat `n mens sterk genoeg is om dinge te oorkom wat op jou pad geplaas word. Een dink is ek van seker: God gee vir klein mense klein kruise om te dra en vir groot mense groot kruise. En ek glo vas dat God my nog baie gaan bystaan in my lewe en my nog ver sal bring, ek moet net bly glo en vertrou.

Ek het weer in 2010 en 2011 `n “relapse” gehad tydens my studies, ek was toe besig met my Bphil in vertaling. Ek het altyd gesorg dat ek oor `n naweek ingaan om kortisoon te ontvang om sodoende nie my klasse te mis nie. Op daardie stadium was ek al gewoond aan die proses, en was dit minder traumaties. Ek het ook besef, as jy rustig in dit gaan en dit aanvaar, sal dit minder traumaties wees en kan jy dit beter hanteer.

In 2012 het alles goed gelyk. Ek het gedink dat my MS nou vir `n slag weer in remissie is, maar teen Oktober het ek duiseligheid, naarheid, balans probleme, visie probleme en oriëntasie probleme ervaar, veral as ek moes bestuur. Ek is weer vir die toetse en daar is bevestig dat ek het weer `n “relapse” het, maar die een was baie erger as voorheen. Ek is weer opgeneem, en het kortisoon gekry, maar kon vir `n maand glad nie bestuur nie. Na `n lang pad van herstel is ek terug werk toe, maar teen Maart 2013 het die simptome weer begin vlam vat. Ek het my neuroloog gaan sien, en die het my toe sommer dadelik laat inboek by Stellenbosch Medi Clinic, daar het hulle weer bloedtoetse, MRI’s en `n Lumbale punksie gedoen. Die “relapse” was redelik ernstig, maar ek het besluit dit gaan my nie onderkry nie. Die personeel by die hospitaal ken my al baie goed, 7 jaar al, en ons het omtrent lekker gesels en opgevang! Ek is vroeër terug werk toe na my “vakansie” by die hospitaal, en tot vandag toe nog bewys ek aan my kollegas, vriende, familie en ander dat MS my nie onder sal kry nie.

God gee vir “klein” mense “klein” kruise om te dra, maar vir “groot” mense “groot” kruise. Ek het `n “groot” kruis gekry om te dra, maar God is met my en ek vertrou op Hom.